Hartsvriendin, hoe groet ek jou (vir nou)?

Posted by on 2012/08/20 in Friends | 5 comments

Vir solank vra ek nou al vir God om vir my ‘n “revelation” te gee oor wat my doel op aarde is en bly bid om geduldig vir die antwoord te wag.  Third Day se Revelation liedjie is een van my gunsteling op die stadium.  Ek “struggle” oor wat my doel is en of ek werklik eendag ‘n werk gaan doen waarvoor ek lief is.  Om dit nie net doen om te oorleef of omdat dit die dak oor my kop gee en my kar betaal om mee te ry nie.   Vrydag, 10 Augustus 1012, is ‘n baie goeie vriendin, Jana, een van my bestes, oorlede.  Dit het nie net my wêreld geruk nie, maar my oor so baie dinge laat nadink.  Was dit my revelation?

Die hele week na haar dood en voor haar begrafnis het ek baie oor haar gedink en hoe gelukkig sy die laaste tyd was.  Hoe haar werk vir haar ‘n baie groot passie was.  Hoe lojaal sy daarteenoor was juis omdat sy so lief was vir wat sy gedoen het.  Ek het gedink oor wat my gelukkig maak en dit het my geïnspireer om kreatief te wees.  Terwyl ek besig was om te skep het ek baie gehuil en min geslaap.  Ek het aan Jana gedink vandat hul al daardie jare terug van Potgieterus af Ogies toe getrek het, hoe sy voor ons groot geword het en tot die ander aand wat sy hier by ons kom kuier het.  Ons moes ‘n baie lang tyd van lanklaas sien in ‘n paar ure ophaal – so min slaap was aan die orde van die dag.  Om my emosies en herinneringe in my kreatiwiteit te sit help om die seer en emosies te hanteer.  Dit het ook toe die geskenke geword wat ek op haar begrafnis aan haar familie gegee het.

(Tannie Corlea en Jana)

Maar op die ou einde wonder mens of jy regtig beter kan begin voel oor die verlies van so pragtige mens en om duisende kreatiewe dinge te doen enigiets aan die verlange en seer kan doen.  Raak dit ooit beter of leer mens net om daardie seer te dra?  Raak dit net meer draagsaam?  Of bly dit vir die beste deel van mens se lewe aan jou gedagtes en hart vasklou?  Ek dink nie mens moet probeer vergeet nie, want dan sal die realiteit daarvan jou net meer seermaak.  Ek dink om die mooi en die snaaks te onthou help om daardie persoon verewig in jou hart te hou.   Ek moet die lewe leef wat my sal verseker dat ek haar eendag weer sal sien.  Daarom het ek ‘n “begrafnisbriefie” vir haar geskryf waar ek haar mooi en snaaks vier:

Ek ken Jana al meer as 24 van haar 25 lewensjare en met haar dood was vir my ‘n baie groot skok wat my lewe in ‘n nagmerrie verander het.  Al moet ek, wil ek nie aanvaar sy is “weg” nie en wil haar vir die laaste keer inneem en alles wat my aan haar herinner styf teen my vasdruk.  Ek dink as dit realisties was om iets wat my aan haar herinner saam met my kon dra dan het ek.  Ek dink net nie mense sal mooi verstaan as ek met die fotoraam wat Jana so baie lank terug al vir my gegee het, vasgeknyp onder my arm, rondloop nie.  Dit is redelik groot en ek sal verseker ‘n statement maak en ‘n paar oë laat rol.  Daarom is ek geseën met die mooiste en snaakste herinneringe van haar wat ek diep in my hart kan bêre! 

 Een van daardie herinneringe wat so vars soos ‘n mooi Lente-oggend in my hart gebêre is, is verseker haar lag wat ek nou nog hoor soos toe sy die laaste keer by ons gekuier het en sy teen ons kombuiskas gestaan het.  Haar dimpeltjies is ‘n ander, want dit was so deel van haar pragtige gesiggie en as jy aan Jana dink dan sien jy dit!  Sy het die mooiste glimlag en al was sy hartseer was dit steeds mooi!

Maar daar is een wat kop en skouers uitstaan en wat meeste van ons wat in Ogies op die skoolgronde gebly kan onthou.  En ja ek is gemeen, want ek vertel dit vir almal aan wie ek Jana voorgestel het.  Sy het al daardie jare terug met net haar doek aan, armpies teen haar poflyfie opgetrek, asof sy gaan hardloop, op en af op die stoepe geloop terwyl haar boudjies so gewikkel het – die wêreld aan haar voete.  Sy was opvreetbaar en het toe al boeppensie, boudjies en voetjies in ons almal se harte ingekruip!  Ek hoor nou nog haar lag toe ek dit vir Jacques vertel het, asook haar alombekende skaam “ag jeh”!

 Dan is daar Jana en haar “guns” toe sy klein was.  Soos ek en haar suster nou die dag gelag het was Jana en haar gewere, Oom Andre, haar pa, se weermagklere en die hele “ek-sal-al-die-boewe-aanvat-houding” onafskeidbaar.  Ek was soms redelik omgekrap omdat sy net nooit daarin belanggestel het om saam my pop te speel nie, en ek was MAL oor my Barbie-poppe, maar sy het weermagklere, volgens haar suster-hulle met ‘n groot gesukkel, goed laat lyk en daarom dat ek maar verlief daarmee moes neem.

 Een van Jaansie se mooiste eienskappe was haar vermoë om onvoorwaardelik te gee en lief te hê!  Sy het ons laat huil, sy het ons laat lag, sy het ons laat wonder oor die lewe en sy het ons nader aan God gebring.  Sy het families bymekaar gebring en mure afgebreek.  Sy het my laat besef hoe bevoorreg ek is dat ons deel van mekaar se lewens kon wees – nie net die mooi nie, maar die seer ook.  Sy beoordeel nie wat dit vir my so maklik gemaak het om vir haar enigiets te kon vertel.  Sy was altyd ondersteunend.  Sy het altyd belanggestel.  Soos Birdy in People help the People sê: “if you’re homesick, give me your hand and I’ll hold it”.  Sy het verstaan en probeer help waar sy kon, al was dit net om te luister!

  Jana se passie vir die dinge in die lewe waarvoor sy die liefste was lê my vrek naby aan die hart.  Dit inspireer my.  Een daarvan was haar passie vir die berge, die plaas en die diere wat haar verantwoordelikheid was.  Sy het my verstom met haar kennis oor skape insemineer, lammers vang en met die hand grootmaak.  Oor wat om te doen as ‘n ooi sukkel tydens bevalling en hoe sy die klein lammertjie sonder moeite van ‘n gewisse dood gered het.  Selfs haar opgewondenheid as hul tweelinge of meer gehad het.  Ek kon nie wag tot sy my daarvan vertel het nie, want jy kon die liefde en trots in haar stem hoor.

 Een passie wat ons deel en ek gaan dit die meeste mis is ons liefde vir fotografie!  Ons het altyd belowe ons sal nog ‘n troue saam afneem – ons wou bitter graag saam werk.  Ek kon toerusting gesels en sy sou my verstaan.  Ek sou beligting praat en sy het geweet wat ek bedoel.  Ek gaan mis om vir haar ‘n foto te stuur sodat sy haar opinie daaroor kan gee, want nie net het ek my grootste kritikus verloor nie, maar een van my grootste fans ook!

 Ek wag steeds vir haar “dink an jo!!” of “mis jo baie!! lief jo baie!!” of “misjobaie!!liefjobaie!!” (sommer alles aanmekaar en in kleinletters) bbms, maar dit gaan nie weer kom nie.  Ek sal nie weer kan antwoord dat ek so dieselfde voel en wens ons het nader aan mekaar gebly sodat ons meer gereeld kon kuier nie.  Ek troos my daaraan dat my liefde vir haar nie Vrydag saam jou begrawe is nie.  Dit sal voortleef met al die ander duisende herinneringe wat ek van haar het!  Daar is net een Jana Gildenhuys en ek is God se super bederfde kind om die geleentheid te hê om vir haar lief te kan wees.

 Jana, my maatjie, was ‘n geskenk van God, maar wie sy was, was die geskenk aan God!  Daardie bondel liefde was ‘n groot geskenk aan my, haar familie en so baie ander mense met wie sy paadjies gekruis het.  Dit het my laat besef dat Jana nie net daardie beste vriendin was wat almal van ons het nie, maar dat sy my hartsvriendin ook was – wat baie min ander mense het of sal verstaan.  Daardie hartsvriendin wat dalk nie my deurdrimpel kon deurloop nie (want sy het heeltemal te ver weggebly), maar vir my 20 myl sou loop sonder dat ek vra of al het ek net 10 myl geloop.  Dit bêre ek baie diep in my hart.  Ek was so bederf!

Ek wonder steeds of die seer minder gaan raak en of ek ooit gaan ophou huil, maar ek luister na wat die sosioloog Peter Berger skryf:  Wanneer ‘n ma haar kind in die nag hoor huil, haar kind optel en vashou met die woorde: “Alles is reg, my kind, alles is reg” dan sê Berger: óf die ma is besig om vir haar kind te jok, óf sy het rede om te sê dat alles reg is, al weet sy alles is nie reg nie.

 Wat is hierdie rede?

Geloof.  Geloof in God wat ons altyd in sy hande vashou. 

 Daarom sê ek vir myself ook nou: “Alles is reg!

*****************************************************

Hier is ‘n paar foto’s van my kreatiwiteit:

Die idee is om met bordkryt op die bord te skryf.  Skryf hoekom jy haar liefhet – die mooi en die snaaks – en dalk later daardie “onthou” met ‘n pen op die raam oor te skryf.  Dalk kan vriende en familie wat kom kuier hul herinneringe op die raam neerskryf.

 

 

 

 

 Ek hou van die Vintage gevoel…

 

 

 Het die oulike klein bordborsel sommer bietjie liefde gegee met ‘n swart hartjie stempel…

 

 En het die borsel en pen met lint, wat die pragtige gesegde ophet, aan die bord vasgemaak…en hoe waar is die gesegde nie!

 

 ***NS:  Die foto’s van die pragtige landskappe is deur Jana geneem.  Ek het dit net ge-edit***

Facebookpinterestinstagram Read More